Die Boodskap Bybel vertaling uitgegee deur Christelike Uitgewersmaatskappy

Christelike Uitgewersmaatskappy is in 1939 in Johannesburg gestig deur Freddie en Ria Crous. Die direksie het bestaan uit Freddie Crous, Gawie du Toit, Vera Hildebrand en Joey Spiller. Die eerste boek, Die komende Christus en die komende krisis deur dr. D.R. Snyman, is in 1939 gepubliseer. Binne twee maande is 5 000 eksemplare verkoop. Dit het die weg gebaan vir klassieke publikasies soos DIE HAND WAT DIE SPYKERS INGESLAAN HET, STROME IN DIE DORSLAND en MY ALLERBESTE VIR SY HOOGSTE wat steeds in druk is.

In 1943 is besluit om CUM te omskep in ’n niewinsgewende maatskappy. Om CUM in staat te stel om fondse in te samel vir die verspreiding van gratis lektuur, evangelisasie-, sending- en armsorgwerk asook Bybelverspreiding neem hulle in dieselfde jaar Newman Art oor.

Freddie Crous is in April 1970 deur sy seun Timo as besturende direkteur opgevolg. Timo het in sy pa se visie gedeel en sy baanbrekerswerk met ywer voortgesit.

In die 1970’s betree Chris Johnsen die Christelike boekemark. Hy begin deur Christelike boeke van huis tot huis te verkoop en hy stig in 1974 CH Johnsen Boekhandel in Vereeniging.

Christian Art word gestig in Junie 1975 om hoofsaaklik te fokus op die ontwikkeling en verspreiding van geskenke, kaartjies en skryfbehoeftes met ’n Christelike boodskap. In dieselfde jaar is die groothandelmark betree met die stigting van Christian Art Distributors om in die Christelike Engelse boekemark van Suid-Afrika te voorsien. Later is die uitvoermark betree met die verspreiding van geskenke en Engelse boeke in Engeland, Australië, Kanada, die VSA en sekere lande in Afrika.

Met die stigting van Christian Art in Engeland in 1981 word daar begin om geskenkprodukte na Engeland en ander lande in Europa te versprei.

In 1983 neem Christian Art die grootste verspreider van Christelike lektuur in Suid-Afrika, Word of Life Wholesale, oor. Hulle verkry ook die eksklusiewe regte om bekende oorsese uitgewers soos Zondervan, Baker, Kregel, Moody en Tyndale se boeke in Suidelike Afrika te versprei.

Daar is in 1984 besluit om CH Johnsen Boekhandel te verkoop sodat die fokus voltyds op die uitgewer- en groothandelkant kan val.

Chris Johnsen het die eienaarskap van Christelike Uitgewersmaatskappy in 1989 oorgeneem en die maatskappy in Vereeniging as selfstandige uitgewery naas Christian Art gevestig. Sy roeping wat hy in 1971 so duidelik uit Josua 1:9 ontvang het, is steeds sy onmiskenbare dryfveer: Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

www.cumuitgewers.co.za

Die Boodskap Afrikaanse Bybel Vertaling

Die Boodskap © 2002 Christelike Uitgewersmaatskappy,
Posbus 1599, Vereeniging, 1930
© 2002
Eerste uitgawe 2002
Tweede uitgawe 2006

Teks uit die Die Boodskap mag aangehaal word in enige vorm (skriftelik, oudiovisueel of elektronies) tot ’n maksimum van 1 000 verse sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer, op voorwaarde dat die aangehaalde verse nie meer as 25% van die werk uitmaak waarin dit aangehaal word nie, en op voorwaarde dat ’n hele Bybelboek nie aangehaal word nie.

Wanneer uit Die Boodskap aangehaal word, moet die volgende erkenning gegee word op die kopieregbladsy of die titelbladsy van die werk: “Skrifaanhalings is geneem uit
Die Boodskap © 2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,
Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.”