Psalm 91 Afrikaans Die Boodskap

Psalm 91 Afrikaans Die Boodskap

Psalm 91 : 1 As jy na die allerhoogste God toe gaan dat Hy jou moet oppas, kan jy van een ding seker wees: Die almagtige God sal jou bewaar.
Psalm 91 : 2 Jy kan vir die Here sê: “U beskerm en bewaar my. U is my God op wie ek vertrou.”
Psalm 91 : 3 Dis die Here wat jou uit die moeilikheid kom haal as iemand jou met skelmstreke om die bos gelei het. Hy bly getrou aan jou.
Psalm 91 : 4 Hy sal jou verlos van enige gevaar wat jou lewe bedreig.
Hy sal jou veilig oppas. Daarom kan jy by Hom gaan wegkruip.
Met sy groot liefde keer Hy die gevaar af.
Psalm 91 : 5 Jy hoef nie bang te wees dat enige mag jou bedags of snags sal oorrompel nie.
Psalm 91 : 6 Geen bose gees sal jou onverwags in besit neem nie.
Nie eens ’n gevaarlike siekte wat jou van agter af bekruip, of ’n epidemie wat jou oorval, sal jou kwaad kan aandoen nie.
Psalm 91 : 7 Al is die gevaar rondom jou so groot dat duisende mense langs jou doodgaan, ja, ook al sterf derduisende mense naby jou, sal jy niks oorkom nie.
Psalm 91 : 8 Jy sal staan en kyk hoe mense wat nie op die Here vertrou nie, platgetrap word.
Ps 91 : 9 Dit is goed dat jy by die allerhoogste God gaan wegkruip.
Ps 91 : 10 Ongelukke, rampe en ernstige siektes sal jou of jou huis nie tref nie. Hy self sal jou bewaar.
Ps 91 : 11 Sy engele sal jou omring wanneer die Here vir hulle sê om dit te doen. Hy sal sê dat hulle jou moet beskerm.
Ps 91 : 12 Hulle sal jou veilig in hulle hand vashou sodat jy nie seerkry nie.
Ps 91 : 13 Jy sal nie eens jou toon teen ’n klip stukkend stamp nie. Jy sal oor jou vyande loop. Van een ding kan jy baie seker wees: as jy op die Here vertrou en elke dag op sy hulp staatmaak, sal nie eens die grootste gevare in die lewe jou ooit onderkry nie. Met die Here se hulp sal jy elke moeilikheid wat jou oorkom te bowe kom. Jy sal bo dit alles uittroon.
Ps 91 : 14 Die Here sê self: “Iemand wat My liefhet, sal Ek uit enige gevaar bevry. Ek sal hom beskerm omdat hy My vertrou.
Ps 91 : 15 Wanneer hy My om hulp vra, sal Ek hom help; Ek sal hom in enige krisis bystaan.
In sy nood sal Ek hom help. So sal Ek eer aan hom bewys.
Ps 91 : 16 Ek sal sy lewe vol maak met goeie dinge. Hy sal lank leef. Hy sal bly wees, want hy weet dat Ek graag help.”

Vind meer uit oor Die Boodskap

Cumuitgewers.co.za
5 1 Stem
Article Rating
Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments